Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste
Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste
Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste
Ebook622 pages10 hours

Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Jy’t vandag – niksvermoedend verby minstens een psigopaat geloop. Hy’t moontlik saam met jou in die hysbak geklim. En vanaand wag daar dalk ’n narsis of ’n sadis op jou. By die huis. Wie is hierdie ongure, gevaarlike mense? Wat gaan in hul koppe aan? En waar ís hulle? Tussen ons … Die skrywer André le Roux het uitgebreide navorsing oor dié wolwe in skaapsklere gedoen. Met die jongste inligting en talle gevallestudies – van Daisy de Melker tot Oscar Pistorius – maak hy hulle werklik en uitkenbaar. Sodat jy hulle kan verstaan, hanteer of vermy – en jouself beskerm.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 16, 2017
ISBN9780624082477
Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste
Author

André le Roux

André le Roux is ’n gesoute joernalis wat by onder meer by Beeld, Huisgenoot en Die Burger gewerk het. Hy was jare lank eindredakteur by Sarie en is ’n gewilde rubriekskrywer. Sy boeke sluit talle topverkopers in, soos Op die man af, Nou ja toe en Op die vrou af.

Read more from André Le Roux

Related to Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste

Related ebooks

Related articles

Reviews for Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste - André le Roux

    NARSISTE,

    PSIGOPATE,

    STALKERS

    EN SADISTE

    André le Roux

    Tafelberg

    Die uitleg in hierdie digitale uitgawe van Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.

    DEEL 1

    WIE IS HULLE?

    The rabbit runs faster than the fox,

    because the rabbit is running for his life

    while the fox is only running for his dinner.

    – Esopus

    1. Hy kyk vir jou

    Hy kyk vir jou met die mooiste glimlag.

    Dan raak hy gewelddadig en sê: Kyk wat het jy my nou laat doen!

    Jou tienerdogter raak verlief op ’n man veel ouer as sy.

    Die man verdwyn met jou dogter.

    Jy raak verlief op die man waarop jy nog altyd gewag het.

    Toe verdwyn hy met jou hart. En jou geld.

    Jou nuwe baas maak jou lewe hel by die werk.

    Jy’s elke dag miserabel.

    Jou buurman, jou buurvrou … Gawe mense.

    Toe daag die polisie op.

    Die Century City-reeksmoordenaar … Nou raak dit erger.

    Tussen 2011 en 2015 word sewe vroue en ’n vyftienjarige meisie ontvoer, verkrag en beroof. Vier ontbinde lyke word op ’n oop stuk veld in die noordelike voorstede van Kaapstad by Akasiapark, Goodwood, ontdek, naby die Century City-stasie. Almal is kaal, hande agter die rug vasgebind.

    Die man wat aangekeer word, Khangayi Sedumedi, ’n 30-jarige sekerheidswag by Checkers, word beskryf as ’n alleenloper sonder vriende nadat sy ma sestien jaar gelede verdwyn het. Hy was ’n enigste kind wat by sy ma se suster alleen in ’n agterkamertjie in Gugulethu gewoon het.

    Sy tannie het hom beskryf as ’n vriendelike seun al het hy met niemand gepraat nie. Hy sou soms saam met haar kerk toe gaan.

    Hy’t glo dwelms gebruik en is voorheen twee keer gevonnis vir diefstal. Nou was dit verkragting en moord met 24 aanklagte teen hom.

    Ek dink tik het hom in ’n monster verander, het sy tannie gesê.

    Die Kaap het nog ’n reeksmoordenaar bygekry.

    Tussen Mei 2014 en Maart 2016 is etlike jong vroue by die Rhodes-gedenkteken by die Universiteit van Kaapstad verkrag.

    ’n Welsprekende 43-jarige man is in sy wegkruipplek teen die hange van Tafelberg in hegtenis geneem. Hy’t in die hof verskyn op 28 aanklagte – 6 van roof met verswarende omstandighede, 5 van menseroof, 1 van aanranding met die doel om ernstig te beseer, 2 van seksuele aanranding, 2 van poging tot verkragting en 12 van verkragting.

    Die Kaap het nog ’n reeksverkragter bygekry.

    Daar’s ’n man in die donker buite jou kamervenster.

    Hy kyk vir jou terwyl jy slaap.

    Wie is hierdie mense?

    ’n Belangriker vraag: Wat is verkeerd met hierdie mense? Nóg belangriker: Waar is hulle?

    Tussen ons.

    Jy sal hulle ontmoet. En hulle sal gewoonlik ’n baie goeie eerste indruk maak.

    2. Eerste indrukke

    The first time ever I saw your face

    I thought the sun rose in your eyes.

    – Roberta Flack

    You can fool some of the people all of the time,

    and all of the people some of the time,

    but you cannot fool all of the people all of the time.

    – Abraham Lincoln, toegeskryf

    Jy sal van my hou as jy my die eerste keer ontmoet, sê ene M.E. Thomas. Ek is nogal seker daarvan, want ek het al ’n statisties beduidende deel van die bevolking ontmoet en almal het geswig voor my sjarme.

    M.E. is mooi en jonk – in haar vroeë dertigs – en ’n gerespekteerde professor in die regte aan ’n Amerikaanse universiteit. Sy’s ’n toegewyde Christen wat 10% van haar inkomste aan liefdadigheid skenk. Sy gee ook Sondagskool.

    Volgens haar eie beskrywing het sy ’n mooi glimlag met tande wat skitter en merkwaardig mooi borste. Al moet sy dit self sê, het sy vroeg in haar lewe agtergekom sy’s slimmer as die meeste mense.

    Ek’t net die regte kombinasie van intelligensie en sukses sodat jou ouers baie ingenome sal wees as jy my huis toe neem.

    Daar’s net een probleem: M.E. is ’n psigopaat. Sy erken dit in haar memoires, Confessions of a Sociopath – A Life Spent Hiding in Plain Sight. Let op die voorletters in haar skuilnaam: Me.

    Narsisties.

    Synde psigopaat het sy geen gewete nie. Sy kyk toe hoe klein diertjies in haar swembad verdrink sonder om ’n vinger te verroer. Sy ruïneer mense.

    Die cliché sê eerste indrukke is belangrik. En dit is. Die cliché sê ook eerste indrukke is blywend. En dit is. Die ou gesegde geld: Jy kry nie ’n tweede kans om ’n eerste indruk te maak nie. Mense leer al van kleins af om hul beste voetjie voor te sit wanneer hulle iemand die eerste keer ontmoet.

    Ons doen dit wederkerig. Almal wil graag aanvaar word.

    En, sê die sielkundige en wetenskapskrywer Daniel Goleman in Social Intelligence, ons is nie inherent geprogrammeer om van die begin af nié van ander mense te hou nie, selfs vreemdelinge.

    Dis veral uit gesigte dat mense (bruikbare) eerste indrukke vorm, maar gewoonlik oorveralgemeen hulle, volgens ’n studie gepubliseer op die Amerikaanse National Institutes of Health se webtuiste (www.ncbi.nlm.nih.gov). Eerste indrukke is gewoonlik betroubaar, maar daardie oorveralgemening kan tot vooroordele (en foute) lei.

    Mense lei maklik eienskappe soos toeganklikheid, vriendelikheid en betroubaarheid uit gesigte af. Op grond van eerste indrukke word afleidings oor emosies en identiteit gemaak en dit beïnvloed ons optrede teenoor ander – wie ons help, wie ons aanstel in ’n pos, wie ons uitvra vir koffie, selfs watter straf misdadigers opgelê word.

    ’n Doodgewone stewige, selfversekerde handdruk – met oogkontak – is deel van ’n goeie eerste indruk, veral in die werkplek, het navorsers aan die Universiteit van Illinois met breinskanderings vasgestel. Dis die begin van positiewe sosiale interaksie. ’n Slap, skugtere handjie gaan nie die gewenste uitwerking hê nie.

    In ’n studie aan die Universiteit van Alabama is vasgestel jou handdruk is konsekwent oor tyd heen en dit verklap iets van jou persoonlikheid. Dié met ’n stewige handdruk is meer ekstrovert en ontvanklik vir nuwe ervarings, minder neuroties.

    Ook vroue met ’n stewige handdruk maak ’n beter indruk.

    Pasop net vir die politieke handdruk, sê die lyftaal- en leuenkenner Joe Navarro, eertydse FBI-profielopsteller, in What Every Body is Saying. Die meeste mense hou nie daarvan as die ander een sy linkerhand bo-oor die handdruk sit nie.

    ’n Eerste indruk begin al vóór die eerste handdruk, op ’n taamlike afstand, sê Navarro op sy Psychology Today-blog (www.psychologytoday.com). Want ons lei baie af uit ’n ander persoon se postuur, manier van loop, kleredrag en hoe hy optree wanneer hy dink niemand kyk nie.

    Ons hoef nie naby te kom nie. Ons kan dreigende gevaar op ’n afstand sien. Die hele idee om ander mense se lyftaal te verstaan, sê Navarro, is om insig te kry in hul gedagtes, gevoelens en intensies. (Dis veral die narsis en psigopaat se intensies waarop jy bedag moet wees – dis nie onskuldig nie.)

    Goleman haal ’n eksperiment aan waarin studente aan mekaar voorgestel is. Hulle was vreemdelinge en het net drie tot tien minute in mekaar se geselskap deurgebring. Onmiddellik hierna is hulle gevra of hulle dink hulle sal vriende kan word of net kennisse bly. Nege maande later was daardie eerste indrukke ’n akkurate aanduiding van hoe die vriendskappe al dan nie sou verloop. Dis immers soos enige verhouding tussen mense begin – met ’n eerste indruk.

    Net so bepaal jou intelligensie hoeveel jy van ander mense hou. Dié met ’n hoër intelligensie het ’n groter afkeer van mense wat hulle as konserwatief of konvensioneel beskou, terwyl mense met ’n laer intelligensie net omgekeerd dink oor mense wat hulle as liberaal en onkonvensioneel beskou.

    Aantreklikheid sal ook help. Aantreklike mense word gewoonlik in vele opsigte positiewer beoordeel as minder aantreklike mense, die sogenaamde aantreklikheid-stralekrans (attractiveness halo). Hulle word as sosiaal aanvaarbaarder beskou met groter sosiale en seksuele aansien en beter vaardighede, gesonder en intelligenter.

    Kortom: Hulle is meer geskik.

    ’n Bietjie alkohol maak dat jy mense inderdaad aantrekliker vind, selfs al dínk jy net jy’t vooraf ’n alkoholiese drankie gedrink. Vrolike, spontane en sosiaal openlike mense wat maklik glimlag, skep ’n beter indruk. Ook vroue met baie grimering. Hulle word beskou as vrouliker. Ja, mense wat ontwerperuitrustings dra of in duur motors ry, skep ook ’n beter indruk. (Iets wat jou duur te staan kan kom, want dis ook hoe swendelaars lyk.)

    Selfs babas en jong kinders reageer positiewer op aantreklike gesigte.

    Net so word kinderlike trekke toegeskryf aan volwassenes met babagesigte (groot oë, smal neus, hoë wenkbroue, ronde gesig, vol lippe, kort ken). Hulle word as naïef beskou, onderdanig, warm, eerlik, minder aggressief, en word makliker oorgesien vir leierskapposisies of moeilike take.

    Eerste indrukke bepaal hoe jy láter teenoor daardie persoon gaan optree, of hy vriend, vyand of selfs jou groot liefde gaan word. Gewoonlik is dit te laat wanneer die persoon se ware kleure begin wys. Dan’s julle (ongelukkig) getroud of hy’s weg met jou geld. Mense is inderdaad nie goed daarmee om geveinsde optrede of leuens uit te ken nie.

    Narsiste en psigopate soos M.E. floreer daarop.

    Jy’t ’n leuenverklikker in jou kop nodig om jou te waarsku: Hier is iets nie lekker nie … Is die persoon wie hy voorgee om te wees? Goleman noem dit jou interpersoonlike radar.

    Wanneer jy dus ’n sinistere vreemdeling ontmoet, help dit jou om dadelik te besluit of jy betrokke kan raak of liewer moet wegbly. Dis deel van die sosiale brein, wat ons interaksies, gedagtes en gevoelens oor ander mense en ons verhoudings orkestreer. Vir Goleman is daardie radar deurslaggewend vir oorlewing.

    Nes in oertye. Moet ek veg of vlug (of vries) of nader staan om te paar? Vandag staan dit bekend as nadering of vermyding (approach or avoidance).

    Wees bedag daarop dat mense geneig is om enigiets te aanvaar wat hul eerste indrukke bevestig of versterk. Enigiets tot die teendeel word eenkant toe geskuif. Wat beteken as jy die eerste keer geswig het voor die sjarme van ’n narsis, gaan jy geneig wees om enige negatiewe tekens wat daarna opduik mis te kyk.

    Moet dus nie jou eerste indrukke goedsmoeds vertrou nie. Gee eerder kans, want eerste indrukke word blitsig gevorm. Dit neem net ’n tiende van ’n sekonde, sê navorsers.

    Ek’t jou gehoor

    Stemtoon is als.

    Mense som iemand op en lei persoonlikheidstrekke soos aggressie, warmte, selfversekerdheid en, belangriker, betroubaarheid uit stemtoon af, het navorsers aan die Universiteit van Glasgow bevind.

    Jeugdigheid tel. Ouer mense beoordeel jong mense op foto’s as betroubaarder, minder vyandig maar tog aggressiewer as wat ander jong mense dieselfde foto’s beoordeel. Jy vertrou ook makliker mense wat soos jy lyk of wat jou aan jouself herinner (implisiete egotisme).

    Wanneer eerste indrukke die begin van verliefdheid is, hou die pienk lenseffek in gedagte. Julle kan niks verkeerds in mekaar se oë vind nie. Julle kyk deur ’n rooskleurige bril. En dit kan tot agtien maande duur voordat julle mekaar se foute begin raaksien. Liefde met die eerste oogopslag kan wel werk, maar dis teoreties beter om nie langtermyn-verhoudingsplanne te maak voordat jy iemand nie minstens agtien maande ken nie.

    Netnou het jy met ’n bedrieglike narsis of psigopaat te doen … Ander mense het dit dalk reeds gesien, maar jy sou nie na enige waarskuwings geluister het nie, want jou kop was in pienk wolke toegedraai.

    Ander mense se mening kan inderdaad jou eie mening beïnvloed. Daar is iemand wat ek aan jou wil voorstel. Jy sal baie van hom/haar hou. En dan hou jy baie van hom of haar! Net so sal ’n vriend van ’n vriend ’n beter indruk op jou maak.

    Jy slaan jou vriende hoër aan as ander in jou portuurgroep, wat sommige navorsers toeskryf aan die binnekring- of ingroep-vooroordeel. Jou vriende gaan immers nie daarvan hou as hulle agterkom jy dink nie so baie van hulle nie. En jy dink jy verstaan jou vriende beter as wat hulle jou verstaan – jy’s immers dieper om te peil as hulle. Maar dis ’n illusie (illusie van asimmetriese insig).

    Dis eweneens vasgestel jy dink jy’s gewilder onder jou vriende as wat jy is, en jy dink ook jy kom beter met mense oor die weg as wat die geval is.

    Soort soek soort, ook met eerste indrukke. Jy gaan ’n beter indruk van iemand kry as julle iets gemeen het. Veral as daar boonop ’n emosionele aanklank is.

    Hoe meer tyd mense het om iemand op te som, hoe meer kyk hulle verby fisieke voorkoms na ander faktore wat moontlike gevaarligte kan laat flikker. Maar om iemand reg op te som raak al hoe moeiliker in ’n tyd van selfies en sosiale media. Mense leer nie meer hoe om gesigsuitdrukkings of ander nieverbale tekens te lees nie, maan Goleman in Focus, want mense het minder persoonlike kontak.

    Die nuwe groep inwoners van die digitale wêreld is dalk behendig op ’n sleutelbord, maar hulle kan die ene duime wees wanneer dit kom by die lees van gedrag van aangesig tot aangesig.

    Die tekens van ongure karakters kan hulle dus heeltemal ontgaan. In Social Intelligence noem Goleman dit sosiale outisme.

    Die rangorde-effek (serial position effect) is die geneigdheid om die eerste en laaste items op ’n lys beter te onthou as die goed in die middel. Dit geld ook vir die indruk wat jy van iemand vorm. Byvoorbeeld, kyk na hierdie lys beskrywings van Koos: Koos is intelligent, toegewyd, krities, impulsief en jaloers teenoor Koos is jaloers, impulsief, krities, toegewyd en intelligent.

    Wat is jou indruk van Koos?

    Albei lyste bevat presies dieselfde eienskappe, maar wanneer die positiewe eienskappe (intelligent, toegewyd) eerste genoem word, is jou indruk van Koos ook positiewer – die geneigdheid om te dink die eerste items op ’n lys is belangriker en beteken dus meer.

    Só ook wanneer jy iemand die eerste keer ontmoet en jy dink hy’s gaaf en aangename geselskap teenoor stug en teruggetrokke, is dit daardie eerste indruk wat gaan vassteek.

    Natuurlik, die laaste deel van ’n eerste indruk is nog belangriker. Dis die indruk wat jy met jou gaan saamneem (serial recency effect).

    Sny dit maar fyn

    Hoe goed kan jy vreemde mense en situasies opsom?

    Dalk beter as wat jy dink.

    Die sosiale sielkundige Nalini Ambady was ’n kenner van nieverbale gedrag (sogenaamde tells) en interpersoonlike persepsies. Sy en ’n kollega het die term thin-slicing of thin-slice judgment geskep – noem dit maar fyn sny – wat aantoon hoe vinnig mense (korrekte) afleidings maak bloot uit dun grepies van ander mense se gedrag. Hulle vorm die regte eerste indrukke op grond van baie min inligting, gewoonlik onbewustelik.

    Intuïsie, dus. En dis inderdaad betroubaar.

    In ’n klassieke eksperiment het Ambady videogrepe aan studente gewys van onbekende professore wat klas gee. Die video’s was net tien sekondes lank, met die klank af. Die studente moes die professore beoordeel op grond van vyftien eienskappe soos gewildheid, eerlikheid, bekwaamheid, ensovoorts.

    Dié studente se beoordeling het merkwaardig ooreengestem met die beoordeling van ander studente wat reeds ’n hele semester by die professore klas geloop en hulle persoonlik leer ken het.

    Toe het Ambady met ’n ander groep studente die tyd verkort na vyf sekondes. En weer het dié studente akkuraat geoordeel, selfs toe die video’s net twee sekondes lank was. Wanneer ons instinktiewe besluite neem, is dit net dít: instinktief en onmiddellik.

    En instinktiewe besluite is dikwels betroubaarder as langoorwoë besluite, sê die skrywer-joernalis Malcolm Gladwell in Blink. Jy’t nie ’n magdom inligting nodig om te kan besluit nie. Ons lê te veel klem op weldeurdagte besluite.

    Gladwell se definisie van fyn sny: Die vermoë van ons onderbewuste om patrone te vind in situasies en gedrag gegrond op dun snitte ervaring.

    Fyn sny, is nuttig op ’n praktiese vlak. Jy besluit baie vinnig of daardie hond vriendelik is of nie, of die man wat van voor af aankom jou wil beroof of nie, of die verkoopsman te vertrou is of nie. Dit raak selfs makliker wanneer iemand begin praat.

    Stemtoon.

    Fyn sny, is ook aan die werk in spoedafsprake, waar vroue se oordeel akkurater is as mans s’n. Dis gevind vroue se oordeel met fyn sny, is oor die algemeen beter.

    Aanlyn profiele soos op Facebook, met bra beperkte inligting, help mense ook om iemand beter te beoordeel. (Dis net nie te sê die inligting op grond waarvan jy afleidings maak, is altyd waar nie.)

    Maar, waarsku Gladwell later in What the Dog Saw and Other Adventures, wanneer jy iemand ontmoet, word jou persepsie van hom gekleur deur die feit of jy van hom hou of nie. Daarby ontmoet jy iemand in ’n bepaalde situasie. Jy’t geen idee hoe die persoon in vele ander situasies gaan optree nie. Jy weet ook nie of hy ’n eerlike mens is, sy vrou slaan of te veel drink nie. (Of mense doodmaak in sy vrye tyd nie.) Nuwe situasies kan jou persepsie verander.

    Navorsing het ook gewys mense kan sekere persoonlikheidsteurings aflei uit video’s van net dertig sekondes. Watter steuring dit is – narsisme of psigopatie, byvoorbeeld – is nie so belangrik nie. Solank jy kan agterkom: Hierdie ou is nie lekker nie.

    Dis wanneer jy maar jou intuïsie kan vertrou om fyn te sny.

    Die effek van bogemiddeldes

    Die indruk wat jy van jouself het, is ewe belangrik.

    Dis altyd effens opgeblase. Ons dink ons is net daardie bietjie slimmer, aantrekliker, vinniger of sterker as wat ander mense dink ons is. Ons is altyd ’n bietjie bo die gemiddelde. Daardie waarskuwing: Moenie dink jy’s beter as ander mense nie, is net ’n ideaal. Ons álmal dink ons is.

    Trouens, ons is bly ons is nie soos dié of daardie mens nie.

    Waarmee niks verkeerd is nie, want dis goed vir die selfbeeld en optimisme. Maar wanneer dit handuit ruk, as jy té opgeblase raak, word jy narsisties of minstens windmakerig, wat jou ongewild kan maak.

    ’n Toets wat wyd gebruik word om te bepaal watter dunk jy van jouself het, is die How I See Myself Scale. En keer op keer, dwarsoor die wêreld, dink die meeste mense hulle is bogemiddeld.

    Wie wil nou gemiddeld wees?

    Mense is dan geneig om hul suksesse toe te skryf aan hul eie vermoëns en hul mislukkings aan eksterne faktore of ander mense. Dis die selfdienende vooroordeel. Verskillende studies het inderdaad gevind as jou dunk van jouself te groot is, kan dit jou sosiale vaardighede negatief beïnvloed en selfs tot antisosiale gedrag lei. Dit kan jou vyandig teenoor ander en maklik geïrriteerd maak.

    Dis ’n fyn balans om vir ’n kind te leer – tussen gesonde aanmoediging (Mooi so!) tot ongesonde aanmoediging (Jy’s die beste!). Dit kan lei tot arrogante, egosentriese en selfsugtige kinders wat altyd dink hulle weet beter.

    Jy dink sélf jou kinders is bogemiddeld. Dis die Lake Wobegon-effek.

    Die Lake Wobegon-effek

    Lake Wobegon is ’n denkbeeldige, mitiese dorpie in Minnesota, afgelei van ’n weeklikse radioprogram wat telkens afgesluit is met: Well, that’s the news from Lake Wobegon, where all the women are strong, all the men are good- looking, and all the children are above average.

    Wat natuurlik onmoontlik is.

    Dié effek is al aangetoon by hoërskoolleerders wanneer hulle gevra word om hul eie leierskapvaardighede te beoordeel (in een opname waaraan ’n miljoen leerders deelgeneem het, het net 2% gesê hul leierskap is ondergemiddeld), en motorbestuurders oor hul eie bestuursvernuf (in ’n studie het 93% van Amerikaanse studente en 69% van Sweedse studente gedink hulle is beter bestuurders as die res). Ook kankerpasiënte oorskat hul kanse op herstel. Mense dink hulle leef oor die algemeen gesonder as hul portuurgroep.

    Die verskynsel is bekend as gewaande meerderwaardigheid (illusory superiority) of positiewe illusies. Kortom, die bogemiddelde-effek. Dis ’n kognitiewe vooroordeel en geld vir jou intelligensie, hoe goed jy vaar in toetse of ander take en hoeveel positiewe persoonlikheidstrekke jy dink jy het.

    Mense dink ook hulle het inherent geluk aan hul kant, sê die sielkundige en wetenskapskrywer Steven Pinker in The Better Angels of Our Nature. Die meeste mense dink hul eerste werk gaan beter wees as ander s’n, hul kinders gaan begaafder wees en hulle gaan baie oud word. Net so dink hulle die kanse is skraler as die gemiddelde mens s’n dat hulle die slagoffer sal word van ’n motorongeluk, misdaad, siekte, depressie, ongewenste swangerskap of ’n aardbewing. Ook bekend as die positiwiteits- of optimisme-vooroordeel.

    Nee, ek sal nooit betrokke raak by ’n narsis of psigopaat nie. Nie ék nie.

    Jy dink ook jy gaan ’n taak gouer klaarmaak as wat die geval is – en dit gaan jou vriende langer vat om hul take te voltooi. Die sielkundige en ekonoom Daniel Kahneman en sy medewerker Amos Tversky noem dit die planning fallacy. Dis ’n optimisme-vooroordeel. Net so dink ontwikkelaars dikwels ’n gebou gaan veel gouer opgerig word en nie so baie kos nie. (Die Sydney-operahuis is 10 jaar laat teen $102 miljoen voltooi, terwyl vir $7 miljoen begroot is.)

    Wanneer mense oorselfversekerd is, sê Pinker, hou dit implikasies in vir gewelddadige optrede. As mense heeltemal rasioneel was, sou hulle ’n aanslag loods net as hulle waarskynlik sal wen en net as die voordele van sukses meer is as die verliese in so ’n geveg. Net so behoort die swakker party oor te gee sodra dit duidelik word hy kan nie wen nie.

    Maar dit gebeur nie.

    Soos in die Viëtnam-oorlog (1955 – 75) vir Amerikaners. En vir Suid-Afrikaners in die Bosoorlog van ’n volle 25 jaar (1965 – 90), terwyl troepe gedurig verseker is: Ons is besig om te wen, manne!

    Maar oorlog is nie altyd rasioneel nie, veral nie as die leiers dink hulle is slimmer as die vyand nie. Reeksmoordenaars redeneer dieselfde: Julle kan my nie vang nie, want ek’s slimmer as julle. Dis tyd vir nog ’n moord.

    Dis gevind mense met ’n ondergemiddelde IK dink hul IK is hoër as wat dit is, maar mense met ’n bogemiddelde IK onderskat hul IK. ’n Britse sielkundige het gevind mans is geneig om hul IK met vyf punte te oorskat, terwyl vroue hul IK met vyf punte onderskat.

    Jy en jou selfbeeld

    Kenners het lank geglo geweld spruit uit ’n lae selfbeeld of slegte eiewaarde, met ander woorde, die waarde wat jy aan jouself as mens heg (self-esteem).

    Net die teenoorgestelde is waar.

    Pinker wys daarop dat eiewaarde gemeet kan word en dié met ’n hoë telling is die psigopate, straatslim boewe, boelies, mans wat mishandel, reeksverkragters en haatmisdadigers.

    Nie die soort eiewaarde wat jy naby jou wil hê nie …

    Die bogemiddelde-effek val in drie kategorieë, verduidelik die skrywer Ian Leslie in Born Liars:

    1.Ons is oordrewe seker van ons eie vaardighede en kwaliteite.

    2.Ons is onrealisties optimisties, soos die kankerpasiënt wat sy kanse op herstel oorskat. Of vra studente hoe hul toekoms lyk en die meeste vertel hoe rooskleurig dit sal wees met ’n goeie werk, groot salaris en slim kinders.

    3.’n Oordrewe sin van beheer. Ons dink ons besluite beïnvloed die wêreld, want ons is in beheer. Wanneer mense dobbelsteentjies gooi, gooi hulle harder wanneer hulle na hoër nommers mik en sagter as hulle laer nommers wil hê. Of hulle blaas daarop. Asof dit nou enigsins die val van die dobbelsteentjies sal beïnvloed.

    Druk, druk, drukkk maar daardie hysbakknoppie …

    Die enigste mense met ’n meer realistiese siening van hul eie vermoëns en die wêreld, en vir wie bogenoemde drie kategorieë nie geld nie, is depressielyers. Hul wêrelduitkyk is akkurater, bekend as depressiewe realisme. Maar terwyl depressiewe mense situasies waaroor hulle geen beheer het nie korrek takseer (dat hulle inderdaad geen beheer het nie), takseer hulle situasies waaroor hulle wel beheer het óók as sonder beheer.

    Dié realisme help die depressielyer nie veel nie. Hy’s steeds depressief.

    Die skrywer Kathryn Schulz som dit op in Being Wrong:

    1.Depressiewe mense verkeer nie onder die vrolike illusie dat hulle die verloop van hul lewe kan beheer nie.

    2.Hulle glo nie, soos die res van ons, dat hulle in alle opsigte ’n bietjie bogemiddeld is nie.

    3.En hulle verstaan, alte akuut, dat hul lewe net ’n kortstondige spikkeltjie is…

    Sadder but wiser.

    Maar Schulz sê ook mense met ’n positiewe uitkyk op die lewe erken makliker hul alledaagse foute en kan dan hul denke verander. As ons onsself nie oorskat het nie sou ons nie gewaag het nie. Dit maak ons optimisties. Schulz noem dit die optimistiese model van foute. Teenoor defensiewe pessimisme, wat mense help om die algemene uitdagings en stres van die lewe beter te hanteer.

    Defensiewe pessimisme is ’n strategie om gereed te maak vir ’n stresvolle gebeurtenis of om dit te vermy. Dan onderskat mense hul eie vermoëns en dink hulle hulle gaan nie so goed vaar nie ondanks suksesse in die verlede. Dit kan hulle egter motiveer om harder te probeer, om beter voorbereid te wees.

    Net so kan ’n bietjie narsisme goed wees.

    In Evil Genes haal Barbara Oakley ’n Psychology Today-skrywer aan wat sê dit lyk of matige narsisme mense help om gouer van beserings en trauma te herstel.

    Dit gee hulle ’n onrealistiese sin van onkwesbaarheid en hulle glo hulle sal enigiets wat die lewe na hul kant toe gooi, kan hanteer.

    Jy’s natuurlik ook ’n beter werker as jou kollega, met beter vaardighede. Jy verdien daarom ’n groter verhoging (as jou baas dit net wil raaksien).

    Groot handelsvolumes op aandelebeurse is al aan die bogemiddelde-effek toegeskryf omdat makelaars dink hulle is goed, en prokureurs gaan maklik hof toe omdat hulle seker is van hul saak.

    Maar mense is blind vir hul eie vooroordele op grond waarvan hulle hulself beoordeel. Dis die bias blind spot en dis eweneens gevind mense met ’n hoër dunk van hulself toon groter illusionêre meerderwaardigheid as mense met minder eiewaarde. Dit kan jou oordeelsfoute laat begaan wanneer jy belangrike besluite moet neem.

    Andersyds is dit nie noodwendig ’n slegte ding as jy dink jy’s ’n bietjie beter as wat jy is nie. Dis gevind mense wat hulself op dié manier mislei, vaar inderdaad beter.

    Boonop: Miskien is jy so goed soos jy dink.

    Indien nie ’n bietjie beter nie.

    3. Ons is almal (’n bietjie) so

    Narsiste, psigopate en ander ongure karakters ly aan ’n persoonlikheidsteuring (disorder), nie ’n siekte (illness) nie. En dit lê op ’n glyskaal of kontinuum – van die moordenaar in die dodesel tot die gewetenlose aandelemakelaar tot die berekende ma langs die sportveld.

    Ek word beskou as ’n baie behulpsame en bedagsame professor, sê M.E. Thomas, wat so ’n goeie eerste indruk skep. In wat ek doen, is ek ’n goeie mens, maar tog word ek nie gemotiveer of teruggehou deur dieselfde dinge as die meeste goeie mense nie. Is ek ’n monster? Ek verkies om te glo dat ek en jy bloot op verskillende plekke op die spektrum van menslikheid lê.

    Van aanvaarbaar (links) tot aanstootlik (middel) tot kwaadaardig en gevaarlik (regs).

    Hou ook in gedagte daar is oorvleueling van eienskappe tussen steurings soos psigopatie en narsisme. Want hierdie steurings lê op dieselfde glyskaal. Vingers van dieselfde handskoen. Gewoonlik is mense nie nét ’n narsis of nét ’n psigopaat nie. Ander steurings gaan daarmee saam, bekend as komorbiditeit. Die psigopaat kan dalk ook ’n sadis wees, die narsis dalk ook obsessief of paranoïes.

    Kwaadaardige narsiste (malignant narcissists) toon talle eienskappe van die psigopaat, wat dit moeilik maak om tussen die antisosiale gedrag van die twee te onderskei, sê Paul Babiak, New Yorkse bedryfsielkundige, en Robert Hare, ’n sielkundige wat veral in die tronke van Vancouver gewerk het, in Snakes in Suits.

    Daardie kwaadaardigheid is gemik teen almal met wie die narsis te doen kry, ook – en veral – teen sy eie mense. Ja, kwaadaardig soos ’n gewas wat nie deur jou liggaam nie, maar deur jou lewe versprei.

    Vir die New Yorkse psigiater Otto Kernberg, kenner van narsisme en grenslynsteuring, lê die narsistiese persoonlikheid heel links op die glyskaal, kwaadaardige narsisme in die middel en psigopatie heel regs. Vir hom is narsisme dus ’n vorm van psigopatie. Soms word psigopate verkeerdelik as narsiste gediagnoseer omdat hulle ewe selfgesentreerd kan wees.

    Die outisme-kenner Simon Baron-Cohen sê in The Science of Evil narsiste sal nie sommer wreedaardig optree nie, maar daar’s kenners wat meen narsisme is onderliggend aan die persoonlikheid van reeksmoordenaars.

    Die psigopaat verskil nie net in soort nie, maar ook in die erns van sy spesifieke afwyking, wat kan wissel van ’n ligte graad tot op die grenslyn (van psigopatie), wat hom toelaat om ’n betreklik normale en aanvaarbare lewe te lei tot erge grade van wanfunksie, sê Hervey Cleckley in The Mask of Sanity.

    Ander navorsers meen die patologiese vorm van narsisme is inderdaad psigopatie wanneer egosentrisiteit, gebrek aan empatie en die narsis se sin van meerderwaardigheid saamval met die impulsiwiteit, bedrieglikheid en kriminele neigings van die antisosiale persoonlikheid. Dan kry jy ’n psigopaat wat sy selfsugtige impulse wil bevredig, maak nie saak hóé nie. Sonder empatie of berou agterna.

    In The Narcissist Test plaas die kliniese sielkundige Craig Malkin narsisme en psigopatie ook op dieselfde glyskaal met narsiste links en psigopate regs. Hy meen die ekstreme (kwaadaardige) narsis is inderdaad nie meer ’n narsis nie, maar ’n psigopaat.

    Hy plaas mense met min narsisme heel links en noem hulle eggoïste (echoists) na aanleiding van Eggo in die Narsissus-mite. Eggo het nie haar eie stem gehad nie. Haar lae selfbeeld en minderwaardigheid het haar waardeloos laat voel, amper onsigbaar. Terwyl narsiste ander mense benadeel, benadeel eggoïste hulself. Hulle is introverte wat te bang is om iets te vra. Hulle dink hul behoeftes is nie belangrik nie. Hulle is bang hulle word verwerp as hulle eise stel.

    Die ekstroverte lê verder na regs op die skaal. Dié wat nie heel regs lê nie is subtiele narsiste, sê Malkin. Moeiliker om uit te ken. Die teken sal wees wanneer die subtiele narsis aanspraak begin maak op dinge waarop hy voel hy geregtig is. Dan beweeg dit in die rigting van uitbuiting en jy sit met ’n ekstreme narsis.

    Hulle wat uitbuit en manipuleer.

    Soms is die manipulasie so subtiel, die narsis kry wat hy wil hê – jy géé dit vir hom – sonder dat hy daarvoor hoef te vra! En op ’n dag kom jy agter jy kan nie meer onthou wat jý graag in die lewe wou hê nie.

    Uitbuiting en ’n sin van aanspraak is amper dieselfde ding. Dis ’n toksiese mengsel, sê Malkin. Die narsis eis erkenning en bewondering.

    Gesonde narsisme, daarenteen, lê in die middel van Malkin se skaal. Hulle is mense wat daartoe in staat is om lief te hê en liefgehê te word. Hulle weet wanneer hulle te selfgesentreerd raak. Dan maak hulle dit reg. Narsiste in die middel bring die beste in ander mense uit. Hulle dink nie net aan hulself nie. (Vergelyk Kernberg wat meen kwaadaardige narsiste lê juis in die middel.)

    Net mense wat nooit spesiaal voel nie of die heeltyd spesiaal voel, is ’n bedreiging vir hulself en die wêreld, sê Malkin. Vir hom het alle narsiste hierdie een gemene deler: Hulle wil spesiaal voel.

    Malkin meen narsisme – gesond of sleg – is wisselend. Vir sommige narsiste is dit ’n gewoonte wat wissel na gelang van lewensomstandighede en ouderdom. Almal weet hoe selfgesentreerd adolessente kan wees, maar by verre die meeste kom weer reg.

    Dink daaraan as ’n multidimensionele kontinuum, soos bloeddruk, sê Babiak en Hare. Bloeddruk kan wissel van gevaarlik laag tot gevaarlik hoog – hipotensief tot hipertensief – en tussenin is alle ander grade van bloeddruk moontlik, party normaal en ander rede tot kommer.

    Ons almal toon eienskappe van narsisme, psigopatie, ensovoorts. Maar net ’n bietjie. Party mense is opperste narsiste, ander bloot selfgesentreerde en onaangename mense. Dit is dus nie nodig om vir alle narsiste en psigopate te skrik nie. Hulle kan selfs jou goeie vriende wees. Intelligent, talentvol, vermaaklik.

    Deur persoonlikheidsteurings op ’n glyskaal te plaas verstaan ons dit dalk beter en kan ons makliker sien met watter soort mens ons te doen het. Net aanstootlik of ook gevaarlik? Dan maak dit nie saak of jy narsiste en psigopate op een glyskaal plaas of elk op sy eie skaal nie.

    M.E. meen dis juis die kontinuum wat sosiopate (die term wat sy bo psigopate verkies) en nie-sosiopate nader aan mekaar bring as wat mense wil toegee.

    Miskien het jy baie meer gemeen met sosiopate as wat jy sal wil dink. Miskien is dit net een groot, lang spektrum met net ’n paar mense aan die uiterstes en die res nader aan die middel saamgebondel.

    Gelukkig is ons nie almal dieselfde nie. En gelukkig lyk ons ook nie dieselfde nie.

    4. Die foto-toets

    Die antieke Grieke het dit geglo en in die Middeleeue het swendelaars dit gebruik om geld uit goedgelowiges te maak.

    Fisiognomie of fisionomie (gesigontleding) is die idee dat jou persoonlikheid afgelei kan word uit die vorm van jou gesig of hoe jy lyk, want jou temperament vind neerslag in jou gesig. Jou gesig wys dus of jy eerlik of skelm is. Iemand wie se oë na aan mekaar sit, sal kwansuis skelm wees. Of as jy ’n bietjie soos ’n bobbejaan lyk, het jy eienskappe van ’n bobbejaan, wat dit ook al is.

    In die negentiende eeu het Charles Dickens, Thomas Hardy en Charlotte Brontë en vele ander skrywers ná hulle hul fiktiewe karakters beskryf op grond van fisiognomie. Later sou kenners glo dis eerder jou gedrag wat wys watter soort mens jy is (patognomie).

    Fisiognomie is ’n pseudowetenskap. Dit werk nie. Maar tot vandag toe glo baie mense daaraan, nes hulle Madame X se kristalbal of handpalmlesery en teeblare of dierefluisteraars glo.

    Maar kan die slegte ouens wel uitgeken word op grond van hul gesigte?

    In ’n eksperiment, The Accuracy of Inference About Criminality Based on Facial Appearance, aan die Cornell-universiteit in New York, het navorsers kop-en-skouers-foto’s van 32 jong Kaukasiese mans in hul twintigs aan deelnemers gewys en hulle gevra om sestien veroordeelde misdadigers – van moordenaar tot verkragter tot dief en dwelmsmous – uit te ken teenoor sestien wetsgehoorsame mense.

    Verbasend genoeg kon die deelnemers dit taks om taks met heelwat sukses doen. (Jy kan kyk hoe jy vaar deur Accurate inferences of criminality from faces te google – die foto’s is op etlike webwerwe te sien.)

    Wat mense egter nie kon doen nie, was om die verskillende sóórte misdadigers uit te ken. (Party mense kan wel.) Te verstane, want misdadigers is gewoonlik skuldig aan meer as een soort misdaad. Maar dit maak ook nie saak na watter soort misdadiger iemand lyk nie. As hy soos ’n misdadiger lyk, is dit genoeg rede om hom te vermy …

    Wat die navorsers ook vasgestel het, is dat vroue gesigsuitdrukkings beter lees as mans – waarskynlik vanweë hul groter empatie, maar dis bespiegeling. Vroue kon dus meer misdadigers uitken as mans.

    Waar vroue wel sleg gevaar het, was toe hulle spesifiek verkragters moes uitken. Wat sin maak, sê die navorsers, want die verkragter moet die vrou kan mislei om haar vertroue te wen. Hy moet aanvaarbaar lyk, anders gaan hy sy potensiële slagoffer afskrik. Vroue het die verkragters boonop meestal nie as misdadigers geïdentifiseer nie, maar as goeie ouens.

    Hoe maklik raak vroue nie deurmekaar met die verkeerde man nie!

    Wanneer die polisie identikits van misdadigers saamstel, doen hulle dit op grond van gelaatstrekke. Hoe het sy oë gelyk,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1